Biltong-en-pasta-slaai

Biltong-en-pasta-slaai

Mans sit nie sommer hul mond aan slaai nie, maar dis maklik om hulle arm te draai as daar biltong by is, soos met dié Biltong-en-pasta-slaai. As jy reeds die vorige aand die pasta gaargemaak het, kan jy die volgende dag tjoef-tjaf ’n lekker middagete langs die pad aanmekaarslaan.

Jy het nodig (vir 6-8 porsies):

  • 1 koppie biltong, in dun skyfies gesny (die biltong moenie te droog wees nie)
  • 10 ingelegde pikantrissies (Peppadews), fyner gesny
  • ½ koppie gekapte rooi-ui (dit het nie so ’n skerp smaak soos ’n gewone ui nie)
  • 1 koppie komkommer, in blokkies gesny
  • 1 koppie fetakaas, in blokkies gesny
  • 1 x 500 g-pak pastaskulpies, gekook en afgekoel

Vir die slaaisous het jy nodig:

  • 3 eetlepels heuningmosterd
  • 1 eetlepel witwynasyn of suurlemoensap
  • ½ teelepel suiker
  • ¼ teelepel sout
  • ½ koppie olyfolie
  • 1 teelepel gedroogde pietersielie

Dan maak jy só:

  • Meng al die bestanddele vir die slaai in een bak, en die slaaisous in ’n ander.
  • Giet die slaaisous oor die slaai, meng en sit voor.

PROBEER OOK: Rasta-pasta; Ragu-vleissous; Pasta á la bunny chow; Boeber