Die Baviaans-Kouga-4×4-ervaring



Terwyl hy ’n 4×4-roete oor die Kougaberge gery het, het Matt Covarr nie net die “lekker lewe” ontdek nie, maar ook ’n opwindende alternatiewe toegangsroete van die rustige Langkloof tot die wilder Baviaanskloof.

Ja, die trein het heelpad Avontuur toe geloop,” sê die ou man op die platform van die Assegaaibos-stasie naby Kareedouw in die Langkloof. “Maar hy lê nou rustig.”

Hiervandaan loop die Port Elizabeth-Avontuur-smalspoorlyn verder wes onder ’n digte tapyt gras en grond deur tot by die gelyknamige dorpie. Maar die laaste keer dat die wiele van die Apple Express-stoomtrein van Port Elizabeth af daarlangs geknars het, was sowat drie jaar gelede, voor ’n vloed dit beskadig het. 

Terwyl die ou Langklower nostalgies raak oor die gloriedae toe uitvoerappels nog op dié spoorlyn vervoer is, verstel ek die stroppe van die dakrak van ons nuut aangeskafte Discovery voor ons die grondpad pak wat hiervandaan dieper die mis- en wolkbedekte Kougaberge inkronkel.

Ek is óók in ’n nostalgiese bui, en verlang klaar na my ou Defender 110 en sy enjinkap waarop ek kon staan sonder dat dit iets oorgekom het.
Ek mis ook die tye toe ’n dakrak onnodig was omdat die binnekant van die Defender so groot soos ’n kleinerige pakstoor was.

Dié is die nooiensrit van die Discovery, ’n voertuig met die gerief en persoonlikheid van ’n gesinstasiewa.
Terwyl my swanger vrou in haar beste Afrikaans probeer om met die ou man te gesels, wonder ek stilweg oor al die veranderinge wat ons reise in die toekoms gaan raak.
Gaan ons steeds kamp? Gaan ons “toevenster-reisigers” word vir wie die temperatuurverstelling in die gemaklike kajuit meer beteken as die ervaring van reis? vra ek myself af, en ril by die gedagte daaraan.

Met die eerste reëndruppels wat op my gesig spat, spring ek af en klim in die Discovery.

Dié uitstappie kan ’n draaipunt wees. Om mee te begin is ons op pad na die gerief van die Baviaans Lodge aan die begin van die Baviaans-Kouga 4×4 Experience, die 4×4-roete noord oor die Kougaberge tot in die Baviaanskloof wat ons môre gaan pak.
Tweedens reis ons in ’n voertuig wat soos ’n rusbank voel en ry, en laastens, ’n blaas van ’n swanger vrou werk só oortyd dat ek oorgenoeg kans gaan hê om stil te hou en die Kouga-natuur te bewonder.

Doen dit in styl

Ná 35 km se grondpad kom ons aan by die Baviaans Lodge. In ’n beboste vallei aan die einde van die grondpad het Rob le Roux ’n versameling hout-en-kliphuise gebou wat, saam met ’n privaat geleë kampplek, perfek met die landskap saamsmelt.

Brindle, Rob se 16 jaar oue kollie, lê uitgesprei voor die kaggelvuur wat in die eetkamer knetter terwyl die temperatuur buite skerp begin val.

Dit laat dink my weer aan my vroeëre nostalgie.
Hoewel ons gewoonlik teen dié tyd in ’n bondeltjie om ’n kampvuur sou sit, laat die Baviaans Lodge my tog wonder of ons nie meer dikwels dié soort blyplek moet kies nie.
Oor aandete beskryf Rob die 35 km van die Baviaans-Kouga 4×4 Experience-roete in besonderhede – van die wild en plante wat ons kan sien tot San-rotstekeninge in grotte.

Die roete noord oor die berge was jare gelede ’n brandpad, en dele daarvan is ook vroeër deur bosbouwerkers gebruik. Voor dit tot in die Baviaanskloof afdaal, ry jy oor vier naburige eiendomme, onder meer ’n groot deel van die Baviaanskloof-wildernis-gebied, ’n Wêrelderfenisgebied.

Met die reën wat op die dak neerkletter, wonder ek hoe die Discovery die deurweekte 35 km lange bergroete sal hanteer.

“Julle sal nie ’n probleem hê nie,” stel Rob ons gerus. “Dis hoofsaaklik klip en rots. Maak net seker jou voertuig is in rat as jy uitklim,” lag hy terwyl hy ons vertel hoe die 4×4-legende Katot Meyer se Defender per ongeluk in ’n kloof beland het – en van die drie dae se geswoeg en ge-sukkel om dit daar uit te kry

Bl 2 | ’n Gedruis van hoewe

’n Gedruis van hoewe

Ons is vroeg wakker die volgende oggend, maar selfs die son is hier nie haastig nie, en loer eers sowat halfnege agter die omringende heuwels uit.

Die eerste sonstrale val op die bergpad wat uit die valley opkronkel op pad na die Kouga-spitse.
Ek kan nie wag om op die roete te kom nie, maar probeer terselfdertyd om nie my Engelse ontbyt te vinnig te sluk nie – vanaand kamp ons in die Baviaanskloof en môre se ontbyt gaan nie naastenby só lyk nie.

Met diep klowe weerskante van ons, klim ons kort ná ontbyt stadig in die rigting van die Kougareeks se pieke.

Dis byna vriespunt buite, die donker rotse gloei in die oggendlig en die lug is helder en vars. Waterdruppels glinster op proteas, speldekussings en talle ander fynbosspesies.

Die Discovery se verwarmer blaas warm lug op ons voete, en danksy sy massiewe vensters het ons omtrent ’n 360-grade-uitsig – ons begin voel soos daai kollie voor die kaggel.

Danksy die swangerskapblaas moet ons egter gou (en tydelik) afskeid neem van die snoesige binneruim en die ysige lug trotseer. Maar dis ’n goeie ding, want die roete regverdig heelwat tyd buite jou voertuig.

Teen ’n helling ’n ent verder groei reusebroodbome tussen rotsblokke, en ver onder ons in die kloof gaan die Kougarivier rustig sy gang.

Hiervandaan kry jy ’n duidelike prentjie van die grootsheid van die Oos- en Wes-Kaapse berge: noord styg die hoë hange van die Kougareeks geleidelik, en in die suide val hulle weg tot in die Langkloof, rug aan rug met die Tsitsikammaberge waar ’n swaar mis-en-wolkbank teen sy suidelike hange aanvlei.

Terug in die Discovery kom ons by die eerste steil klim, om ’n klipperige nek voor dit in ’n vlak vallei afdaal.

Die Baviaans-Kouga 4×4 Experience sal dalk nie hardebaardveldrymanne liries hê nie, maar dit het wel uitdagende dele. Maar met ’n natuurskoon soos hierdie speel veldry tweede viool en ons vind die kombinasie van ry en verken te voet ’n goeie manier om die beste uit die roete te haal.

Die Discovery trap lekker vas op die los oppervlak terwyl sy neus hemelwaarts wys en dit oor rots- en klipdele wieg.
My verlange na my Defender verdamp al meer met elke rotsblok wat moeitevry deur die sagte vering geabsorbeer word.

Soos wat die die Baviaans-kloofberge die noordelike horison begin vol lê, verander die fynbos geleidelik in struik- en Karoo-agtige plantegroei.

Ons hou stil om foto’s te neem en terwyl ek uit die voertuig klim, laat spaander ’n paar goed ge-kamoefleerde klipspringers af teen die steil heuwel.
Die klank van hul hoewe weergalm teen die rotswande.

As jy genoeg tyd en geduld het, kan jy hier wild soos die klipspringer, bergrietbok, vaalribbok, koedoe, blesbok en selfs die wildebees sien.

 

Bl 3 | Onder in die Kloof

 

Onder in die Kloof

Ons ry deur ’n deel van die Baviaanskloof-wildernisgebied en later ’n private plaas, waar ons verras word deur ’n troppie skape wat langs die s
poor wei, elk uitgedos met ’n draadhalsband.

Later sou ons hoor hierdie beskermende skaaphalsbande is om dodelike nekbyte van roofdiere soos die Kaapse luiperd te voorkom.

Die halsbandprojek – die geesteskind van die Landmark-stigting, in samewerking met plaaslike boere – het ten doel dat roofdiere en veeboere in harmonie kan saamleef.

Uit die verte hou ’n Anatoliese skaaphond ons agterdogtig dop, myle van ’n mens of skuilplek. Ek het gehoor hierdie hondeskaapwagters beskerm hul troppe verwoed, en ons besluit om eerder ’n ent verder vir middagete stil te hou.

’n Peloton aalwyne staan op aandag in die droë landskap, ’n herinnering dat ons in die Oos-Kaap is.
Hulle kyk af in ’n diep bergkloof, met ’n laagrotswand wat uit die valleivloer uittoring.

Ons middagete is spartaans in vergelyking met ontbyt: kaas en Provitas, afgesluk met water en rooibostee. Hoewel ek nie sal nee sê vir nog ’n ontbyt by die lodge nie, hou min dinge tog kers vas daarby om op ’n rots te sit en oor ’n see van bergspitse uit te tuur.

Hiervandaan raak die landskap al droër. Breë valleie van rots en sonverbleikte klip, met hier en daar ’n trop skape, laat dit voel asof ons deur ’n Bybelse toneel ry.
Maar in die noorde lê die onmiskenbare voue van die Baviaanskloof onder ons uitgesprei, ’n konstante herinnering aan waar ons is.

Stadig-stadig ry ons aan deur die hoër heuwelagtige dele totdat die roete stadig maar seker afdraand begin neig tot in die Baviaanskloof dóér onder.

Die nou spoor, wat vir lang ente met droë klipmesselwerk teen die berg se rand vasgegom is, spoeg ons ná ’n klomp sigsagdraaie uiteindelik onder op die breë valleivloer uit.

Ons vleg deur akasiawoude en oor droë rivierbeddings voor ons deur die Rus en Vrede-plaaswerf ry tot op die R332, die Patensie-Willowmore-grondpad deur die Kloof.

Jy kan die hele 35 km lange roete in minder as vier uur ry, maar dit het ons sewe uur gevat.
Buiten die genoemde swanger-skapblaas en 12 plaashekke op die roete, is dit moeilik om in die voertuig te bly.

Ondanks die koue het ons die omgewing ure lank te voet verken en ook baie stilgehou om die vreemde swangerskap-eetdrange uit die noodproviandhouer te probeer bevredig.

Die roete eindig amptelik by die Doringkloof-boskamp, ’n paar kilometer langs die Baviaans-kloofpad na Willowmore.
Dis by hierdie kampplek, om ’n kleinerige dam gebou en ’n hele ent van die grondpad af, waar ons redelik pynloos terugkeer na die wêreld van tente, tafels en grondseile.

Elke netjies geharkte kampplek is onder akasiabome, terwyl warm storte en spoeltoilette vir verdere gerief sorg – ’n plek waar jy sorgeloos kan uitspan. 

Met die braaivleis wat sis en ons tent opgeslaan onder ’n hemelruim vol blink sterre, herkou ons tot laataand aan die roete en die gevoel van vryheid en ontdekking wat ons daar bo op die Kougaberge beetgepak het.

Alles is nie verlore nie

Party mense sê mos ’n verandering is so goed soos ’n vakansie.
Ek dink weer terug aan gister se nostalgie-aanval. Hierdie uitstappie was inderdaad ’n vakansie, en een met ’n verskil.

Ek het agtergekom dis nie nodig om na die verste uithoeke van die aarde te ry om avontuur en afsondering te vind nie, dat veldry sonder luukses nie altyd die enigste uitweg is nie, en dat ek op die “rype ouderdom” van 34 die lekker lewe al meer bekoorlik begin vind.

Die Langkloof het dalk ’n deel van sy spoorlyn verloor, en ek het dalk my werkesel-Defender verloor, maar alles is nie verlore nie.

Die verandering in my veldrybenadering – saggemaak deur gerieflike beddens, Engelse ontbyte en ’n SNV – laat my smag na nóg van die lekker lewe.

En die Langkloof? Wel, die trein stop dalk by Assegaaibos, maar die avontuur hou beslis nie daar op nie.

Bl 4 | Vinnige feite

Vinnige feite

Beste tyd: Heeljaar

Bly minstens: 1 nag, 2 dae

Ervaar:
’n Bergroete in ’n afgeleë deel van die Oos-Kaap wat soos die ander kant van die wêreld voel.

Afstand van:
Kaapstad-Kareedouw: ± 625 km;
Jhb-Kareedouw: ± 1 170 km

Klink soos ’n boffin:
Daar is planne om die vloedskade aan die PE-Avontuur-spoorlyn te herstel – dié 285 km lange roete is die langste en oudste werkende smalspoorlyn ter wêreld

Ek wil ook gaan!

Wat kan ek daar doen en sien?
Ervaar ’n afgesonderde deel van die Oos-Kaap wat maklik bereikbaar is, en tog soos die ander kant van die wêreld voel. Dis ’n lekker naweekwegbreek en dit sal ook jou voertuig soms deur sy passies vat.

Die beste tyd om te gaan?
Heeljaar, maar die winter kan uiters koud wees, terwyl die somer baie warm kan raak. Proteas blom in die vroegherfs.

4×4 of 4×2?
Jy het ’n 4×4 met laestrek en goeie grondvryhoogte nodig.

Word veldmotorfietse toegelaat?
Hulle ry heel dikwels die roete.

Kan ek my veldsleepwa saamsleep?
Jy behoort nie ’n probleem te hê nie.

Hoe lank moet ek bly?
Twee nagte – een nag by die Baviaans Lodge of sy kampplek voor jy die roete aanpak en ’n tweede aand in die Baviaanskloof. Of andersom.

Kan ek die roete in albei rigtings ry?
Ja. Maak seker jy betaal voor jy begin ry.

Wat kos die roete?
R100 per voertuig en R10 per persoon

Wat moet ek saamneem?
Warm klere in die winter en heelwat sonskerm in die somer.
As jy kamp of in ’n selfsorgplek bly, moet jy selfonderhoudend wees – daar is nie winkels in die omgewing nie.

Waar is die naaste brandstof?
Kareedouw of Willowmore.
Maak vol by een van die twee voor jy die roete begin ry.

Waar kan ek bly of kampeer?
Baviaans Lodge, aan die Langkloof-kant van die roete, het kothuisblyplek met aandete, bed en ontbyt. Hulle het ook ’n kampplek.
Die Doringkloof-boskamp in die Baviaanskloof is netjies en goed geleë.

Moet ek by een van die twee bly om die roete te ry?
Nie noodwendig nie

Wat kos die verblyf?

Baviaans Lodge:

  • Lodge R395 per volwassene wat deel vir aandete, bed en ontbyt;
    R195 per kind (2-12) per nag;
    kinders onder 2 bly gratis;
    afslag vir 3 of meer nagte;
  • Kampering: R75 per volwassene;
    R30 per kind per nag

Doringkloof-boskamp:

  • Kampering: R60 p.p.p.n. vir volwassenes;
    R30 vir
    kinders onder 12;
  • Selfsorgblyplek in gastehuis: R150 p.p.p.n.

Moet ek bespreek? Verkieslik

Is water en vuurmaakhout beskikbaar?
Vuurmaakhout is by die Baviaans Lodge beskikbaar en kan by die Doringkloof-boskamp gekoop word. Water is by albei beskikbaar.


Waar bespreek ek?

Baviaans Lodge:
Kontak persoon: Rob le Roux 
Sel 082 796 3578 
Tel 021 813 5883;
E-pos rob@baviaanslodge.co.za;
baviaansinfo@telkomsa.net;
Web www.baviaanslodge.co.za

Doringkloof-boskamp:
Kontak persoon: Chris en Tanya
Tel 049 839 1160

of

Kontak persoon: Barend en Adele
Tel 049 839 1174; 
Web www.baviaans.co.za


Hoe kom ek daar?

Om by die Baviaans Lodge van Kareedouw te kom, volg die R62 in die rigting van PE vir 2 km.
Draai links by die Assegaaibosstasie.
Ry oor die grondbergpas tot by ’nT-aansluiting.
Draai links en ry ’n ent aan (jy steek die Kougarivier oor).
Hou aan vir 2 km tot by ’n aansluiting wat Joubertskraal en Baviaans Lodge gemerk is. Die lodge is 21 km verder met dié grondpad.

Om by die Doringkloof-boskamp in die Baviaanskloof te kom,
volg die R332 van Willowmore vir 80 km in die rigting van Patensie;
6 km ná Studtis sal jy die ingang na die Doringkloof-boskamp kry.


WR_Kloof tot Kloof.pdf 792 KB