Weskus | Woes, leeg en afgeskeep

Picture211

Die see, veldblomme, diamante, ’n nasionale park, Robey Leibbrandt, Worsie Visser se vakansiekaia, en die eerste skaapboere in Suider-Afrika …
Barnie Louw het gaan kyk hoe staan sake aan een van die laaste onontwikkelde dele van die Weskus.

Paradise Beach. Sunset Estate. Tranquility Place. Benguela Vista. Dís wat ek my eiendomsontwikkelings hier langs die Weskus tussen Lutzville en Hondeklipbaai sal noem.

Nadat ek die seefronterwe uitgemerk, die advertensieborde langs die N7 opgesit en ’n Jurgens staangemaak het as ’n “Sales Office”, sal ek begin om bemarkingsmateriaal te skryf.

Iets soos: “The perfect setting on a stunning part of the West Coast! Amazing 180° views over the cobalt blue Atlantic Ocean.  A tranquil coastline. Natural beauty with pristine sandy beaches. Magnificent flowers in spring. Beautiful and optimal walk to the beach-setting.”

Hoe soetsappig dít ook al mag klink, dis alles 100% waar. Dié deel van die Weskus is inderdaad ’n plek van clichés: ’n ongerepte kuslyn, skilderagtige baaitjies, wit strande, asemrowende sonsondergange, eiesoortige fauna en flora …

Maar wat ek sal verswyg, is dat die naaste dorp omtrent 70 km ver is, die bietjie water hier so brak is jy kan krewe daarin aanhou, die enigste infrastruktuur ’n paar sink-en-hout-kaias en ’n netwerk van spataaragtige tweespoorpaadjies is, prospekteergate die kusgebied soos akneeletsels ontsier, en dat jy boonop ’n 4×4 nodig het om hier te kom.

Ek sal ook nie vertel dat enigiemand wat wil, hier kan kom rondry nie (ook op die strande), en die plek lustig bemors en spore deur die veld trap soos hulle wil.

O ja, en dat ’n deel van dié kusgebied uiteindelik tot nasionale park verklaar gaan word.

Bl 2: Die mooi wil …

Die mooi wil net nie ophou nie

Piet is reg. As jy op ’n Woensdagmiddag hier bo tussen die vervalle klipstapel en ’n Telkom-toring staan, kan jy inderdaad albei Saterdae sien.

Van die spits van Toringkop – die enigste noemenswaardige heuwel myle ver in elke rigting – beduie Piet van Heerde, ons gids, ons die paadjie noordwaarts wat ons vandag op die laaste skof van die sogenaamde Weskus-ekoroete tot in Hondeklipbaai gaan ry.

Om ons is absolute stilte en vrede. Binneland toe, tot doer teen die vae buitelyne van die Kamiesberge, is dit net vaalgroen Namakwalandse bossieveld; aan die ander kant lê die bloublink Atlantiese Oseaan en wieg.

Na die suide kan ons net-net ’n deel van die 100 km lange netwerk van paadjies uitmaak wat ons die afgelope twee dae ál langs die rotsagtige kus vanaf die Soutrivier gevolg het. Dié paadjies sigsag oor eertydse kusboerderygebied wat De Beers sedert die 1930’s stelselmatig opgekoop het nadat spoeldiamante by die mond van die Oranjerivier ontdek is.

Van hier bo-op Toringkop lyk die skaapbos- en kapokbosveld maar aan die vaal kant, maar Piet vertel in die blomtyd (Julie-Oktober) sing die hondeblommetjies, perdeblomme, wit-sôe, sierang, vygies, aandblomme, perdeblomme en gousblomme uit volle bors.

Terloops, Toringkop (ook genoem Maclearskop) is nogal ’n historiese hoogte. Die klipstapel is opgerig ter ere van sir Thomas Maclear (dieselfde ou na wie Maclearsbaken op Tafelberg genoem is), wat die heuwel in die 1800’s gebruik het om die presiese kurwe van die aarde se lengtelyne in die Suidelike Halfrond te bepaal.

Twee dae en tallose paadjies gelede het ons die teerpad en selfoonontvangs sowat 70 km noordwes van Lutzville in die truspieëltjie agtergelaat toe ons die Soutrivier oorgesteek het.

Moenie toegangshekke verwag of borde wat aankondig dat jy nou op die Weskus-ekoroete is nie. Jy hoef nie eens te betaal nie; jy ry net. Die enigste leidraad is ’n klein bordjie by die Cawood-soutwerke wat sê “Kuspad/Coastal Road”. En ’n ent verder ’n bord wat sê quads word nie toegelaat nie.

Nou het jy twee keuses: Of jy ry die sogenaamde “harde pad”, ’n oorwegend 4×2-vriendelike grondpad wat binnelands al langs die jakkalsdraadheining loop wat De Beers se kusgrond van die skaapplase skei, of jy durf die sanderige spore aan wat al op die kuslyn langs kronkel, verby die een baaitjie na die ander.

As jy nie daarin belangstel om elke kronkelspoor en baaitjie te verken nie, kan jy die sowat 140 km tussen die Soutrivier en Hondeklipbaai waarskynlik in een dag ry.

Maar as jy, soos ons, verkenner speel en gereeld stilhou vir foto’s en omtrent elke twee minute stop, bene rek en iets dieps sê soos “Sjoe, maar dis mooi”, kan dit jou ’n paar dae vat. Veral as jy reg langs die see wil kamp, jou vergryp aan die sonsopkomste en -ondergange, en wil voel asof jy die enigste mens langs die kus van Afrika is.

Piet vertel dat hy al op mense afgekom het wat só begeester was deur die omgewing en afge-sonderdheid dat hulle Adam en Eva gespeel het – sonder die strategiese vyeblaar.

Van die Soutrivier af tot by die Groenrivier neem die paadjies ons langs van die heel mooiste 55 kilometers in Suid-Afrika.

Verby baaitjies, visvangplekke en kreefgate (en miskien diamantgate …?) met name soos Hardslaapbaai, Malkopbaai, Strandbaai, Hoekbaai, Skurfbaai, Blougat, Geelklip, Volwaterbaai, Bruinklip, Skulpiesbaai

Die mooi wil nie ophou nie. Af en toe verras ons ’n duiker of steenbokkie, terwyl bloukopkoggelmanders in die son bak en dwergvalkies, witkruisvleivalke en jakkalsvoëls swiepend na ’n sappige happie soek.

Dan neem die paadjies jou verby Island Point en die wrak van die SS Namakwa (wat in Maart 1876 gestrand het), verby plekke soos Abjoel se Baai waar die paadjie tussen die rotse deurglip, letterlik meters van die water, tot by die Groenriviermond-vuurtoring (die jongste van Suid-Afrika se vyftigtal vuurtorings, wat in 1988 gebou is).

Bl 3: Dis mooi, ja, maar…

Dis mooi, ja, maar …

Klink idillies, nè? Verkeerd. Hier gaan jou emosies wipplank ry: ja, dis mooi, maar jy is terselfdertyd hartseer, dan kwaad, dan woedend. Jy wil die minister van omgewingsake aan haar serp hiernatoe sleep en wys wat aan die gang is.

Want wat ek nie hierbo noem nie, is dat dié kusgebied al jare ’n soort niemandsland is waar toegangsbeheer of polisiëring nie bestaan nie. Elke moegoe met ’n voertuig, ’n tent en ’n koelboks kan dus na hartelus hier maak en breek (veral breek). En dit lyk of dít gereeld gebeur.

Wat die aantrekking is, weet nugter. Dis beslis nie Mosambiek dié nie: Die visvang is maar so-so, jy kan nie ’n skiboot te water laat nie, en die water is eintlik te koud om te swem. As jy dus nie ’n natuurmens of fotograaf is nie, kan jy basies kreef duik, kamp en drink – en te oordeel na die leë drankbottels wat oral rondlê, kom hier nie eintlik natuurmense nie.

Wie weet, miskien is die aantrekking dat jy kan doen wat jy wil en niemand jou daaroor gaan berispe nie, én dis boonop heeltemal verniet. Weskus-ekoroete? Nee wat, noem dit e
erder die Weskus-opneukroete.

Rommelstrooi is algemeen, omtrent heelpad tussen die Soutrivier en Hondeklipbaai, hoewel die stuk noord van die Groenrivier (in die nuwe deel van die Namakwa Nasionale Park) merkbaar skoner is.

Dit het al só hand uitgeruk dat die Land Cruiser-klub die afgelope paar jaar op eie onkoste en tyd die kusgebied skoonmaak – verlede jaar het hulle ses dubbelas-sleepwaens vol rommel opgetel.

Nie alleen trap mense spore deur die kusveld waar hulle wil nie, strandry is oënskynlik hier net so gewild soos drink. Van die tien voertuie wat ons in drie dae teëgekom het, het agt hul spore op die strande gelos soos littekens ná ’n messtekery.

Dít ten spyte van ’n R2 000-boete (en moontlike beslaglegging op jou voertuig) as jy op ’n strand gevang word. Die R500-boete vir rommelstrooi maak duidelik ook nie veel indruk nie – as daar niemand is om jou vas te trap nie, hoekom jou daaraan steur?

Vir wie moet ’n mens kwaad wees? Vir De Beers, wie se grond dit is, of die plaaslike owerheid? Nee, ek dink eerder die onverantwoordelike besoekers wat hierdie natuurkleinood stadig maar seker met hul traak-my-nie-agtige houding skend.

Die oplossing is ook nie voor die hand liggend nie: Verbied jy alle toegang, of laat jy mense toe om net saam met geregistreerde toergidse die gebied te besoek? Of hou jy maar net aan om skoon te maak agter die belhamels? Ek weet regtig nie.

Miskien is die beplande bewaringsgebied suid van die Groenrivier ’n goeie begin.

Die ontwikkeling van dié bewaringsgebied is ’n gesamentlike projek van De Beers, die Kamiesberg-munisipaliteit en internasionale bewaringsorganisasies.

Daar is nog nie geld vir die projek nie, maar as dit eers op dreef is, sal dit onder meer strenger toegangsbeheer en polisiëring beteken.

’n paar jaar gelede het De Beers 13 kampplekke tussen die Brakrivier en die Spoegrivier uitgemerk as alternatief tot die kamp-waar-jy-wil-ingesteldheid. Ook dít het oënskynlik nie ’n danige uitwerking gehad nie.

Vir party mense was kamp nie genoeg nie – hulle het sommer hul eie “vakansiehuise” (eintlik maar net plakkershutte of kaias) aanmekaargetimmer uit planke, dryfhout, sinkplate, asbesplate en skadunet. Worsie Visser se gelapte wegbreekplekkie staan vandag nog hier.

By die Groenriviermond was tot onlangs ’n hele nedersetting van sulke vakansiekaias – nagenoeg 50 mense het hier vir hulle vakansieplekkies opgerig. Die bekende Namakwalandse entrepreneur en kubuskoning, Adriaan Nieuwoudt, was een.

Al wat nog oor is daarvan, is ’n skoongeskraapte stuk grond. ’n Hooggeregshofuitspraak in Augustus 2007 het ná 30 jaar ’n einde gebring aan hul gratis vakansies toe gelas is dat die sowat 80 strukture afgebreek moet word. Nieuwoudt was in Oktober-November verlede jaar die eerste om sy vakansieplek af te breek.

Bl 4: Dis mos nou beter

Dis mos nou beter

Aan die noordekant van die Groenrivier lyk dinge stukke beter. Die rede? In November 2008 het De Beers 34 000 ha kusgebied tussen die Groen- en Spoegrivier aan Sanparke oorhandig, wat dit na verwagting vanjaar nog by die Namakwa Nasionale Park gaan inlyf.

Volgens Sanparke is dié sowat 50 km lange stuk die enigste deel van die Weskus nog grootliks onaangeraak deur ontwikkeling en diamantmynbedrywighede. Dis ook van bewaringsbelang weens sy riviermondings, vleilande en enigste behoorlik funksionerende duineveld oor in die land.

Die lint is nog nie amptelik geknip nie, maar Sanparke is al druk besig. En jy kan dit sien: daar’s veel minder rommel as suid van die Groenrivier, van die hordes paadjies is al toegemaak, prospekteergate toegegooi, inligtingsborde opgesit, drie veldwagters aangestel en die rehabilitasie van die veld is onderweg. En dis maar net die begin.

Volgens die parkbestuurder, Bernard van Lente, is daar voorlopig vyf kampplekke en dagbesoekergeriewe geïdentifiseer. Bouwerk het ook al hier begin.

Hy sê hulle is besig om die nuwe deel te omhein, en sodra dit gedoen is, gaan wild hervestig word wat hier voorgekom het: springbokke, gemsbokke en selfs hartebeeste en elande.

Tans is daar nog nie valhekke of ’n man in ’n houthuisie wat jou permit of toegangsgeld gaan vra nie, maar volgens Bernard sal dit waarskynlik volgende jaar gebeur.

Terloops, dié nuwe deel sal die Namakwa Nasionale Park tot 144 000 ha vergroot, wat dit die vyfde grootste nasionale park in Suid-Afrika sal maak, naas die Kruger, Kgalagadi, Addo en Richtersveld.

Almal is egter nie so in hulle noppies met ’n nasionale park op hul voorstoep nie. Dié in die boerderygemeenskap langs die park met wie ons gesels het, is bang dat die park ’n “jakkalsnes” gaan word wat onder skaaptroppe sal maai.

Hulle is ook bekommerd dat die staanplekke wat Sanparke op die nuwe kampplekke uitmerk, te klein kan wees vir hul gebruiklike vakansie-opset, maar, soos een vrou dit gestel het, “ons is nogtans dankbaar vir 30 jaar dat ons verniet gekamp het”.

Anderkant die Groenrivier hou die “Sjoe, maar dis mooi” net aan, verby Galjoenbaai, Kwaassebaai, Skitloodsbaai, Breekskip en ander plekname wat soos suiker op die tong voel. Skynbaai, Boggerolbaai (ook bekend as Platduin), en Koringkorrelbaai.

Koringkorrelbaai se naam het nie net ’n, wel … interessante oorsprong nie (dit kom glo van ’n man wat te veel koring geëet en ’n maagongesteldheid gekry het toe hy daar visgevang het); dis ook die plek waar Robey Leibbrandt, Suid-Afrikaanse bokskampioen en Nazi-simpatiseerder, in 1941 aan wal gekom het om die regering omver te werp (sien kassie hiernaas).

Dan neem die paadjies jou verby Toringkop, deur ’n poeierwit duineveld anderkant die Bitterrivier en verby ’n robkolonie en ’n varswaterfontein tot by die Spoegriviergrotte waar argeoloë die vroegste bewyse van skaapboerdery in Suid-Afrika opgegrawe het. Skaapbene van by die 2 000 jaar oud is in hierdie grotte gevind, wat vermoedelik deur Khoi-Khoi op hul suidelike migrasie bewoon is.

By die Spoegriviergrotte draai jy uiteindelik weg van die kus af. Al wat nou nog oorbly, is ’n laaste sowat 40 km, verby die park se noordelike ingang by Swartfontein, tot op Hondeklipbaai waar Attie Hough, baas van die Honnehokke-oornagplek, jou nóg meer van die Weskus se staaltjies, stories, legendes en uitdagings kan vertel.

As jy gesels met mense met ’n diép liefde vir die Weskus – mense soos Attie, Piet of Bernard – word jy saam met hulle hartseer dat een van dié kusgebied se grootste bates, sy afgesonderdheid, juis daartoe lei dat onnadenkendes dit kan vertrap.

Maar… ’n bewaringsgebied suid van die Groenrivier en ’n nasionale park noord van die rivier – watter beter manier is daar nou om moegoes se tjank af te trap?

Bl 5: Vinnige feite

Ek wil ook gaan!

Beste tyd om te gaan?
Julie tot Oktober is blommetyd en die mooiste tyd om te gaan, maar jy kan dit heeljaar besoek.

Wat moet ek inpak?

Jy moet heeltemal selfversorgend wees – jy is baie ver van die naaste Woolworths. Sorg dat
jy minstens die volgende pak:

  • Water daar’s geen vars water nie. Neem minstens 5 liter per persoon per dag vir drink en was. Jy kan natuurlik altyd in die see was – as jy die koue water kan trotseer.
  • Warm klere die dae kan warm wees, maar die aande koud, veral as die wind waai.
  • Tent – moenie buite slaap nie; die seemis gaan jou sopnat maak.
  • Windskerm – as die wind aan die Weskus begin waai, dan waai dit behoorlik.
  • Gazebo – daar’s nie bome nie, en natuurlike skaduwee is maar skaars.
  • Sonbeskerming – omdat daar nie skaduwee is nie, brand jy maklik. Vat dus ’n breërandhoed en genoeg smeergoed.
  • Braaihout – daar’s niks bome nie, en dus niks brandhout nie.
  • Permitte – as jy wil kreef uithaal in seisoentyd (November-April) moet jy ’n permit hê.
  • Persoonlike goeters – onthou jou medikasie, toiletpapier en toiletgrafie.
  • Noodhulpkissie – die naaste dokter is net so ver soos die naaste Woolworths.
  • Vuilgoedsakke – vat genoeg sodat jy jou eie rommel, en miskien ander mense s’n ook, kan saamneem.
  • Kompressor en banddrukmeter – die paadjies is goed sanderig.
  • Herwinningstoerusting – sorg dat jy herwinningspunte voor en agter op jou voertuig het, en vat ook ’n kinetiese en sleepstrop.
  • Onthou, daar is geen elektrisiteit by die kampplekke nie, en selfoonontvangs is op sy beste sporadies.

4×2 of 4×4?
Met ’n 4×4 kan jy ál die tweespoorpaadjies ry; met ’n 4×2 nie. As jy in ’n 4×2 gaan, sorg dat jy ondersteuning van ’n 4×4 het. Selfs al ry jy ’n 4×4, moet eerder nie alleen gaan nie. Die korrekte banddruk is belangrik, en ’n bietjie 4×4-ervaring is noodsaaklik.

Brandstof?

Lutzville en Garies is die enigste brandstofplekke. Sorg dat jy genoeg brandstof het om minstens 300 km te ry, waarvan dele in laestrek is.

Gevare?

  • Kyk altyd op die grond vir tampans, ’n soort bosluis wat onder die sand lê en wag dat jy verbyloop.
  • Wees op die uitkyk vir driedoringbosse – hulle kan ’n gat in jou bande steek.
  • Wees op die uitkyk vir skerp wortels en klippe in die sandspore.
  • Die suidewind (vanaf September) kan baie lastig wees, en die noordwestewind bring gewoonlik reën.

Wat nog?
As jy die Namakwa Nasionale Park in ál sy fasette wil ervaar, gaan ry die park se 120 km lange Rooikat-ekoroete.Die roete loop deur die hele park, van die Skilpad-blomreservaat af, af deur die Kamiesberge en dan van die Spoegrivier suid na die Groenrivier.
Veral in blommetyd behoort dit iets besonders te wees.

Kontak die park by 027 672 1948.

WR_Weskus.pdf 813.7 KB