Addo-Olifantpark | Addo word groot

WS7_Addo_01

Die Addo-olifantpark was my eerste ervaring van Suid-Afrika se nasionale parke. As kind was die Krugerwildtuin soos die mitiese land van Eldorado. Skoolmaats het ná elke skoolvakansie stories vertel oor leeus en luiperds en ek het afgunstig geluister. Van hiënas en rooibokke het ek maar min geweet en slegs as olifante ter sprake gekom het, kon ek saam praat, want die Addo was “ons” wildtuin.

Sedertdien het sake darem verander, en vandag hoef Addo geen tree terug te staan vir Suid-Afrika se ander parke nie

 

Wat kan ek sien?

In Addo kry ’n mens nie soos in die Krugerwildtuin om elke draai ’n trop rooibokke nie. Hier ís nie rooibokke nie; dis vlakvarkwêreld.

Só werk dit met vlakvarkkyk: Jy’t skaars by die ruskamp se hek uitgery en jy gooi ankers by drie of vier van hulle wat 30 m van die pad af in die bosse staan en wei. Jy neem foto’s vir ’n vale en ry dan stadig verder, want as ’n mens só gou vlakvarke sien, dan moet hier mos baie wild wees.

Dis nie lank nie of daar’s nog ’n troppie vlakvarke, sommer digby die pad. Jy kan jou geluk nie glo nie. Klik, klik, klik gaan daai kamera van jou.

Om die draai sien jy ’n meneer van ’n vlakvark met lekker groot tande. Klik, klik. En doer hardloop nog drie, stertjies in die lug. Klik.

So gaan dit totdat jy teen die einde van die eerste dag aan effense vlakvark-uitputting ly.

Koedoes is amper ewe volop. Hulle staan in groepies van twee of drie in die ooptes en herkou soos tieners wat in ’n winkelsentrum rondhang.

Maar die park behoort darem nie aan vlakvarke en koedoes nie: In 2003 het Sanparke ses leeus en ’n klompie hiënas in die park losgelaat om dinge in toom te hou. Tot in daardie stadium was die klein swartrugjakkalsies en ’n luiperd of twee al roofdiere in die park.

Die park is ook groot genoeg vir ’n stuk of vyftig renosters om hulself skaars te hou.

En dan is olifante natuurlik volop: daar is meer as 450 van hulle in die park, en jy sien hulle sommer kort-kort teenaan die pad. Maar by hulle ry jy nie net verby nie. Jy móét kyk – elke keer.

Maar hou ook jou oë op die pad voor jou, want van die park se belangrikste inwoners is omtrent so groot soos ’n vuurhoutjiedosie: Addo en die omliggende dele is die enigste plek waar ’n mens nog die vlerklose Addo-miskruier (Circellium bachus) kan sien. Stuur dus die Cressida se wiele mooi weerskante van hulle verby en moet ook nie deur die olifantmis ry nie.

 

Hoe groot is groot?

Die park se grondgebied het sedert 2000 met meer as 200% toegeneem. Tans beslaan dit 1 642 km2 – toegegee, dis sowat tien keer kleiner as die Krugerwildtuin, maar toe die park in 1931 gevestig is om die laaste 11 olifante in die omgewing te beskerm, was die totale oppervlakte maar 20 km2.

Tans lyk die kaart van Addo soos ’n onhandige gr. 1’tjie se poging om ’n legkaart aanmekaar te sit, omdat die park uitgebrei word op plaasgrond wat stuk-stuk opgekoop word.

Die plan is om nóg 3 600 km2 aan te las, sodat  al die “los” stukkies deel word van een aaneenlopende park.

Naas die Krugerwildtuin en die Kgalagadi-oorgrenspark is Addo reeds die grootste park in die land, maar dit kan ook om ander redes onder die parkreuse gereken word: Hier sien jy nie net (as jy baie gelukkig is) die Groot Vyf nie, maar die Groot Sewe – dis nou die gewone vyf plus die noorkapperwalvis en die witdoodshaai. (Nee, Addo se watergate is nie só groot nie, maar die Woody Cape-deel van die park loop tot by die see.)

Ook deel van die park is die grootste duineveld in die Suidelike Halfrond, en die see rondom St. Croix- en Vöeleiland, blyplek van die wêreld se grootste Kaapse malgaskolonie (160 000 van hulle,) is tot mariene bewaringsgebied verklaar. Nóg 1 200 km2 is vir dié doel bestem.

Die Woody Cape-deel van die park word tans nog deur die N2 en ’n smal strook private grond van die res van die park geskei, maar sal uiteindelik volgens plan ook deel word van die park.


Waar kan ek my toebroodjies eet?

Omdat die park so groot is en die kampeerplek in een hoek lê, is dit ’n goeie plan om jou daaglikse wildkykrit in twee skofte te verdeel – een in die oggend en een in die middag, sodat jy vir klein Basie en Kotie oor middagete by die kampeerplek kan hê vir ’n toebroodjie en ’n sappie (tensy jy natuurlik by een van die watergate wil gaan stilhou en soos by ’n roadhouse sommer in die kar te eet).

Addo het nie piekniekplekke en teetuine nie, maar daar’s drie plekke in die wildgebied waar jy uit jou kar mag klim:

Kadouw: As jy wil bene rek, is die Kadouw-uitkykpunt ’n goeie plek. Dis ongeveer 9 km van die kamp af, en om jou strek spekbome se lowerkombers kilometers ver in elke rigting. (Die parkbestuur werk tans aan ’n piekniekplek in die park se botaniese reservaat in die suidelike deel van die wildgebied, en jy behoort voor die einde van die jaar piekniekmandjie daar te kan uitpak.)

Domkragdam: Dit is sowat 3 km van die hoofkamp af, mag jy ook uit jou kar klim. Al gaan jy nie hier sien hoe ’n trop leeus hulle dors kom les, of ’n bok verskeur nie, is die kans goed dat…ja reg geraai, ’n troppie vlakvarke die kinders gaan vermaak. En die bokmakieries met daai kraalogies van hulle wip tot in die bosse reg voor jou.

Die dam is genoem na Domkrag die bergskilpad, ’n kalant wat die gewoonte gehad het om onder motors in te loop en hulle op te lig – dis nou tot die dag dat hy per ongeluk in ’n erdvarkgat beland het en nie weer daar kon uitkom nie. Sy dop, so groot soos ’n jong miershoop, word in die ontvangskantoor ten toon gestel.

Spekboom: As die nood druk en jy ver van die kampeerplek af is, moet jy maar hoop jy is naby die Spekboomskuiling, want dis die enigste plek met toilette in die wildgebied.

Die skuiling is langs ’n watergat in die suide van die wildgebied, naby die Hapoordam.

Dis eintlik nie veel meer nie as ’n kampie waar jy veilig deur ’n gleuf in ’n plankheining kan loer hoe die diere suip. (Die kanse is goed dat dit vlakvarke sal wees…)

 

Wildkyk is maklik

Knap anderkant die heining by die hoofkamp is ’n watergat wat saans met spreiligte verlig word.

Hier is ook ’n “ondergrondse” skuiling in ’n grondwal van waar jy die wild kan bekyk wat kom suip. Bo-op die wal is ’n sementblad met ’n paar bankies waar jy ook oor die watergat kan uitkyk.

Kom laatmiddag met ’n beker koffie en ’n verkyker hierheen en gaan sit op een van die bankies en wag…

Met ons besoek aan Addo het ons in twee dae slegs een buffel op ’n afstand in die wildgebied gewaar, maar teen skemer het meer as honderd van hulle bykans teenaan ons by die watergat kom maal. Terwyl die grotes gesuip het, het van die kalwers uitbundig kerjakker, en ’n paar opgeskote bulle het letterlik en figuurlik koppe gestamp – amper soos ’n lekker braai op Despatch.

Vir die kampeerders is dié skouspel Addo se weergawe van oopkyktyd. Dit was nie lank voordat ’n hele skare* by die uitkykpunt saamgedrom het nie. ’n Kleutermeisie het die geleentheid gebruik om ongesiens – en tot haar ma se groot verleentheid – een van my stukke beskuit vas te lê.

 

Kyk net die voëls!

As jy nou nog nie die verskil tussen ’n budjie en ’n berghaan ken nie, is dit ’n goeie plan om vir jou ’n voëlboek aan te skaf wanneer jy Addo toe kom.

Hier fladder of stap minstens 130 voëlspesies rond, en by die Sasol-rooivinkskuiling naby die restaurant kan jy ongehinderd kyk hoe die vinke en ander voëls nes bou.

Die park se begeleide wildsritte kos R170 per persoon en is waarskynlik merendeels gemik op buitelanders wat op soek is na ’n “egte” Afrika-ervaring.

Ja, die gids se kommentaar is waardevol (ons s’n het selfs vir ons ’n hiëna gewys wat eenkant tussen ruie bossies vir ons lê en grynslag het), maar onthou jy kan dieselfde roete gratis met jou kar ry.

Die R170 wat jy spaar betaal vir twee mense se kampplek en jy sal kleingeld hê vir ’n pakkie braaitjops.

 

Waar kan ek bly?

Sanparke bestuur vyf chaletkampe wat oor die park versprei lê, maar Addo se hoofkamp is die enigste plek waar jy jou woonwa kan afhaak.

Die ander kampe het almal chalets of semipermanente safaritente. Die nuutste een is Matyholweni in die suide van die park, sowat 3 km van die N2 af naby die dorpie Colchester, by die monding van die Sondagsrivier. Daar’s ook drie lodges wat op ’n konsessiegrondslag bedryf word.

Die Mvubu-boskamp in die Kabougadeel, noordwes van Kirkwood, het ses tentstaanplekke met een warm stort en ’n spoeltoilet.

Die woonwapark by die hoofkamp is nie die ideale plek om op lang somersdae met ’n Louis Lamour-sagteband onder ’n skaduwee te gaan lê nie. Al is hier koeltebome, is die kamp eerder ’n oornagplek as ’n kuierplek. Wie ook al die staanplekke uitgelê het, het beslis aanvaar dat besoekers heeldag eerder die park se wild gaan opsoek as om in die kampplek te kuier.

’n Plot of ’n plaas? Die staanplekke is almal op gruis met ’n bossieheining aan drie kante tussen jou van jou bure.

Party van hulle is taamlik beknop; as dit nie vir die heinings was nie, het jy en Buurman per ongeluk uit dieselfde bord geëet.

Die meeste is in ’n reghoekvorm met die ingang aan die smal kant. Jy het dus nie eintlik keuses oor hoe jou woonwa gaan staan nie, veral as jy een van daardie sytente het waarin ’n mens ’n lekker Boeretroue kan hou.

Die toegangspad na die tentstaanplekke aan die onderkant van die kampeerplek is dieselfde as die woonwaplekke, maar dis veel kleiner. Daar is kragpunte.

So ry die trein…
Die kampeerplek lê tussen die park se ingangspad en die wildgebied.

Langs die ingangspad loop die spoorlyn Port Elizabeth toe, en saans as die kuiervure begin uitdoof, voel dit asof ’n mens lê en luister na iemand in die vertrek langsaan wat verveeld van die een TV-kanaal na die ander rondspring – die een oomblik hoor jy die weemoedige gehuil van jakkalse in die verte, en die volgende oomblik die gedreun van ’n goederetrein met ’n vrag vol nuwe karre uit die Baai.

Skoongewas. Daar is een netjiese ablusieblok vir al 20 woonwa- en 10 tentstaanplekke, maar dis voldoende. Ons het nooit die gevoel gekry daar’s te veel mense nie.

Boonop kan jy ook daar wasgoed en skottelgoed was en die chemiese toilet leeg maak.

 

Randrekkers

Soos by die meeste parke is aandenkings in die parkwinkel duur, maar die res van die voorraad – enigiets van opwasseep* tot wyn – is billik.

Die restaurant se pryse gaan jou ook nie op jou knieë dwing nie. Vir R38 kry jy ’n spek-en-eier-ontbyt met roosterbrood en koffie wat jou tot minstens elfuur op dreef sal hou.

Al wil jy nie gaan eet nie, is dit die moeite werd om by die restaurant te gaan kyk na die opgestopte kop van Hapoor, die park se legendariese olifant. Dié beduiwelde kalant was jare lank die dominante bul in die park, en minstens een ander bul wat hom uitgedaag het om die titel, het met sy lewe daarvoor geboet.

Toe Hapoor uiteindelik wel onttroon is, het hy so vernielsugtig geraak dat die wildbewaarders hom van kant moes maak. Om besoekers ’n idee te gee hoe groot dié reus werklik was, is sy kop op dieselfde hoogte as wat dit op sy skouers was teen die muur aangebring toe hy nog geleef het.

 

Doendinge

Kyk wild en voëls. Ry op jou eie deur die park, of huur ’n gids. Daar is ook wildritte op oop voertuie en perderitte in die park. Gaan neem foto’s by die voël- en wildskuilings.

Werd om te weet

Slaap gerus. Die park is nie ’n malariagebied nie.

Jy hoef jou dus nie met Tabbard en malariapille te marineer nie.

Sit weg die sitrus. Jy mag geen sitrusvrugte in die wildgebied inneem nie. Ollie het ’n besondere voorliefde daarvoor en begin dalk net in jou paneelkissie rondvroetel.

Afgespreek. Bespreek vooruit. Die kampeerplek is gewild; party naweke (soos Paasnaweek) is dit maande vooruit al volbespreek.

Op sy stukke. Die park is in agt verdeel: Daar’s die hoofkamp, die Colchester-, Woody Cape-, Zuurberg- en Kabougadeel, asook die Nyati-konsessie en die Kuzuka- kontrakgebied.

Wanneer jy in die hoofkamp is, kan jy deur die park na die Colchester-gebied ry (die deel wat nie teen die see lê nie). Om by die ander dele uit te kom sal jy buite-om die park moet ry.

Tweelingkamp. Daar’s glo planne om ’n kamp in die Nyati-konsessie te bou wat soortgelyk is aan die hoofkamp, maar dit sal waarskynlik nie woonwastaanplekke insluit nie.

’n Corsa is genoeg. Jy het nie ’n 4×4 nodig om in die park te ry nie; ’n gewone kar is heeltemal in die haak.

Stop die horlosie! Hektye vir die wildgebied: 1 September-31 Mei: 6 vm.-6 nm.; 1 Junie-31 Augustus: 6.30 vm.-5.30 nm.

 

Guten Tag!

Besoekers aan die park het toegeneem van 94 000 per jaar in 2000 tot sowat 140 000 in 2006. Volgens Sanparke se webwerf is 54% buitelanders.

Die meeste buitelanders verkies die park se chalets bo die kampterrein, maar dis moeilik om hulle mis te kyk in die winkeltjie: Hulle staan met safarihoede en handgekerfde aandenkings voor jou in die ry terwyl jy wag om vir jou sakkie braaihout te betaal. (Die braaihout is nie juis die soort wat teen die volgende oggend nog gloei nie; oorweeg dit dus om jou eie rooikrans- of kameeldoringhout saam te bring.)